Riemland Kuierfees - April 2008

Al die feesgangers en inwoners van Lindley is dit eens dat die fees sommer regtig lekker was!. Die reëlingskomitee het dié reusetaak BAIE suksesvol voltooi het. Doe Zo Voort!!!

Die hekke het die Vrydag reeds om 10h00 geopen en sommer gou het besoekers opgedaag. Veral die skoliere het die boeresport goed ondersteun en dit baie geniet. Daar was selfs ‘n “merry-go-round” wat goeie aftrek gekry het.

Die krieketveld langs die Fraaiuitsig-saal was in ‘n perdeskoen-vorm omring met oulike stalletjies wat vanaf sonbrille tot spookasem verkoop het. Daar was ook volop kosstalletjies en kopers kon kies-en-keur waarvoor hulle lus is vir die dag, en dalk weer bietjie later iets heeltemal anders probeer! Daar was stalletjies wat o.a. calamari-disse, pap-en-braaivleis, hamburgers, sosaties, doughnuts, pannekoek, pizza’s en vele meer aangebied het.

In die Fraaiuitsigsaal was ook uitstallings gehou vanaf skoonheidsmiddels, skoene, juwele, kussings, klere en ook die pragtigste feëtjie rokkies en bykomstighede wat enige dogtertjie se kamer in ‘n droomlandskap kan omskep.

In die Glassaal het die VLU ‘n teetuin beman wat o.a. koffie en soetgoed verkoop het. Die bloedoortappingsdiens het ook ‘n kliniek hier opgerig, waar feesgangers so bietjie van hul self kon gee.

Die Friesperd vertonings het groot byval gevind by oud en jonk.

Tydens die opvoering van Magda se Dansskool het die dansertjies almal se harte gesteel, maar veral die kroning van Juf. Babbelbekkie was beslis ‘n hoogtepunt. Juf. Babbelbekkie: Izaan Barnard. Prinsesse:Jana Heymans en Ursula van der Schyff.

Vrydagaand is op ‘n vrolike noot afgesluit met die optrede van die Waenhuis Boereorkes in die Glassaal.

Saterdag is die gekuier voortgesit en dames kon ‘n praatjie oor skoonheid en tafeldek-wenke bywoon.

‘n Skaapskeer en wolklasserings demonstrasie is grootoog deur omstanders bewonder. Die lesings was baie interessant en leersaam. ‘n Pick-a-box-loting het die kaartjie kopers met opgewondenheid laat luister of hul gelukkige nommer nie dalk hardop gelees word nie! Baie oulike pryse is deur die borge voorsien en het baie se harte verbly!

Die SAP honde-vertoning het sommige laat skaterlag, maar op ander se gesigte is ernstige konsentrasie en afwagting weerspieël.

Die Potjiekos kompetisie was deur DUPS geborg en die wenners was: 1ste: Johannes Viljoen, 2de: Gawie van Rensburg, 3de: Essie Esterhuyse. Die wenners het geskenkbewyse van DUPS ontvang.

Die skaapkudde kompetisie het groot belangstelling ontlok en die kompetisie was straf.

Tydens die voorprogram het plaaslike kunstenaars, nl. Christelle Müller, Anri Barnard en Gert Bekker die gehoor vermaak. En natuurlik ons eie genl. De La Rey, Tiaan Barnard, saam met seremoniemeester, Rudi van Niekerk!

Die GPS kompetisie van die Lettie Mouton tehuis, in samewerking met Kroonstad Outdoor Centre, se wenners is ook bekendgemaak tydens die fees, nl: Annalize Liebenberg van Kaapstad.

Die hoofkunstenaar, HUGO wat in Lindley bekend is vir sy musiek-video waarop beelde van Lindley en omliggende dorpies verskyn, het die gehoor meegevoer met sy pragtige musiek.

Die fees is Sondag afgesluit met gesamentlike erediens op die feesterrein gelei deur pastoor Gert Kotzé en ds Pikkie Maritz. Die opbrengs van die kollekte is geskenk aan Lukas huis.

Wie moet ons bedank? Wie is die feeskomitee?
 Agter vlnr: Gert Bekker, 0/voorsitter - Diaan Human, Naomi Smit (jr), Albert Labuschagne

Middel vlnr: Tesourier - Ansie van Tonder,
Sekretaresse - Ilna van Tonder, Voorsitter - Marelize Maritz

Voor:Hennie Theron

Nie op foto: Hennie Crous, Fanie Henning, Morné Mouton, Kobus van den Berg