Lindley Tennisklub

Op Saterdag 12 Januarie 2008 om 2uur het Die Lindley Tennisklub weer amptelik hulle tennishekke oopgemaak. En letterlik al die hekke moes oopgemaak word, want daar was amper 30 spelers teenwoordig en die drie bruikbare bane was van 2uur af tot sononder toe vol met dubbels- en gemengde dubbelsspelle.

Die goeie opkoms was 'n verrassing vir almal en 'n goeie aanduiding van die groot behoefte van die Lindley gemeenskap vir sosiale sport en afleiding.

Daar was 'n vinnige vergadering om 'n bestuur te verkies, waaruit die verskillende portefeulje's nog verkies moet word deur die bestuur. Die bestuur is 'n goeie verteenwoordiging van die
gemeenskap en sien soos volg daaruit:
Diaan Human (Boer/sakeman)
Gert Bekker (Sanger/skrywer)
Hennie Theron (Sakeman-Riemland Landbou)
Leon Van Rensburg (Sakeman-Lindley Rollermeule)
Marthie Ferreira (SA Vrouekrieket Kapteine)

Die stemming tydens die middag se spelle was baie aangenaam en die spelers is dit eens dat die opening van die tennisklub 'n groot aanwins vir die hele gemeenskap gaan wees. Vir jonk en oud.

Jonk en oud het ook saam op die baan rondgehardloop agter balle aan en dit was verblydend om te sien dat die ou veterane almal 'n kans gegun het. Teen 5uur was die braaivleisvure aangesteek en almal het heerlik die aand in gebraai en gekuier.

Die klub het besluit om eerder die gemeenskap en spesifiek die jeug te dien, as om 'n erg kompiterende klub te wees. Daar sal wel talent geidentifiseer en ingeskryf word vir liga-wedstryde. Die klub gaan ope-dae hou en skoolgroepe nooi van Lindley skole om talent te ontgun en verder te ontwikkel. Die klubbestuur het ook bespreek om later professionele afrigters in te kry en klinieke aan te bied vir die kinders wat uitgesoek is as moontlike talent vir die klub.

Klublede is welkom om op Saterdae 'n vleisie saam te bring en iets op die kole te gooi na die tyd. Ons het nog nie braaifasiliteite nie en vir tyd en wyl moet jy jou eie braaier ensovoorts saambring. Die klub gaan in elk geval poog om op die eerste Saterdag van elke maand 'n georganiseerde braai te hou. Daar sal Saterdae ook 'n snoepie wees waar koeldranke en eetgoed verkoop aangebied sal word ter fondsinsamelimeling van die klub.

Daar is besluit om op Saterdae van 2uur tot laat te speel en op Woensdae van 5nm tot laat. Indien enige iemand sou belangstel om by die klub aan te sluit, kan u gerus vir enige van die bestuur kontak of skryf vir Gert by gertbekker@lindley.co.za of
082 570 0222. Dagbesoekers is ook baie welkom teen 'n nominale fooitjie wat nog deur die bestuur bepaal moet word.

Jip, Lindley is die plek om in te wees!